Judas 1-25
Waaroor is jy passievol? Dit kan byna enigiets wees – van sport tot tyd saam met jou familie. Atlete se passie om te wen, dwing bewondering af: Dit wat hulle doen, die ure wat hulle insit, dit wat hulle hulself ontsê. Dit alles en meer word in die woord stry vir geïmpliseer. In vers 3 sê Judas: Geliefdes, ek was vas van plan om aan julle te skrywe oor die verlossing waaraan ons almal deel het. Maar nou voel ek my verplig om julle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het. Vir Judas was die saak waarvoor hy passievol “gestry” het, die suiwer evangelieverkondiging en Jesus se reputasie as Verlosser.
Om te stry vir die geloof beteken letterlik om selfs ten spyte van vervolging en die dood getrou te bly aan Jesus Christus. Die bloed van die martelare is die saad van die kerk, het die vroeë Christenskrywer Tertullianus geskryf. Hoe meer julle ons afmaai, hoe meer groei ons. Die lys van martelare en die voortgang van die kerk bevestig Tertullianus se woorde.
Ons gedenk jaarliks op Sondag die naaste aan 24 Augustus Bartolomeusnag. Gedurende die nag van 23-24 Augustus 1572 is duisende Hugenotegelowiges in Frankryk vermoor. Die organisasie Geopende Deure berig dat Christenvervolging steeds voortgaan en selfs toeneem. Die geloofstandvastigheid van hierdie martelare, wat ten spyte van al die bloedvergieting, aan Jesus Christus getrou gebly het, mag nie vergeet word nie.
Ons verlossing is ’n gawe, en Judas moedig ons aan om, soos ons voorgangers, in die geloof met passie te bly stry vir die geloof – sodat ander dieselfde boodskap kan hoor en dieselfde gawe mag ontvang. ’n Deurleefde geloof en ’n intieme verhouding met Jesus Christus is hiervoor deurslaggewend. Ons sal nooit iemand wat ons nie ken nie, passievol kan verdedig nie.
Mag ek en jy ook kan sê: Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig enduit volgehou.
Ds Errol Sheppard, Rietspruit
