Hebreërs 11: 8-19

Abraham word nie verniet die vader van al die gelowiges genoem nie. Hy bly ʼn besondere voorbeeld van hoe geloof vra dat God onvoorwaardelik vertrou moet word – selfs wanneer die afloop nie voorhande en bekend is nie. Ons kan maar net kortliks verwys na die implikasies van elke inleiding: omdat Abraham geglo het…

Hy moes oppak en trek uit sy bekende omgewing, en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom – omdat hy geglo het. Selfs in die beloofde land het hy gewoon soos ʼn vreemdeling in ʼn vreemde land. Saam met Isak en Jakob het hulle net die belofte gehad van ʼn stad met vaste fondamente waarvan God self die ontwerper en bouer sou wees. Hul verblyf in tente was die voortdurende herinnering dat hulle in hierdie wêreld maar vreemdelinge en bywoners was.

Hy het God vertrou dat die belofte oor sy nageslag vervul sou word, al was hy en Sara lankal by hul vrugbare fase verby. En so het hy die vader geword van ʼn volksversameling wat so talryk soos die sterre in die hemelruim en so baie soos die sand van die see sou wees.

Op die koop toe moes hy ook nog gehoorsaamheid betoon toe hy beproef was met die opdrag om Isak as offer af te staan. Die skrywer maak die sterk aanname dat Abraham daarvan oortuig was dat God by magte is om uit die dood op te wek, en so het hy wat gereed gestaan het om Isak te offer, sy seun asʼt ware uit die dood terugontvang.

Oor die aartsvaders, saam met Abraham, het ons die sterk getuienis dat hulle steeds geglo het, al het hulle in hul leeftyd nie verkry wat beloof is nie. Geloof was vir hulle ten volle die sekerheid oor alles wat gehoop is, en hulle het gesterf met die oortuiging dat hulle sou deel wees van die ewige stad van God. Ons word geroep om hul geloof te volg!

Prof Piet Geyser, Emeritus/Meyerspark

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link