Lukas 1: 26-33 en 2: 1-14; Matteus 2: 1b-12

Het Kersfees nog geloofwaardigheid as die Kersverhaal al die bestanddele van ’n sprokie bevat? Skande, armoede en haweloosheid, wrede vervolging gemotiveer deur jaloesie. Verder ook roem, rykdom en heerlikheid waaraan die sterre, die engele, die slim rykes en die arm eenvoudiges deelneem. Ek raai dat die Kersevangelie soos ’n sprokie klink omdat God dit op so ’n manier regkry om ons verbeelding aan te gryp, en ons dit verder met Hom te laat waag as wat ons as rasionele mense gewoonlik bereid is om te waag. Jou geestesoog moet saamkyk, asof jy self daar was, nes kinders wat na sprokies luister en in die sprokie verdwaal. Dit is wat die Kersverhaal doen: Dit neem jou saam. Dit  laat jou uitkom by dit wat vir jou rasionele denke te ver weg lê. 

 

’n Verhaal, ontwerp vir ’n kind se verbeelding, is God se verfkwas vir sy openbaring. Soos ’n sprokie werk vir kinders, so werk hierdie storie vir God se openbaring aan skeptiese grootmense. Jy sien iets groter as wat jy kon bid of dink. Jy moet jou geestesoog gebruik om iets daarvan te kan begryp. Hierdie “iets” is die aangrypende openbaring van die heilige, almagtige God. Jy word kind wat oopmond-verdwaas sien hoe God se nuwe stad voor jou eie oë verrys. Jy sien sy koninkryk kom.

Hierdie storie vertel wat met die eerste gelowiges gebeur het. Hulle vertel dit só in die hoop dat ons sal sien wat hulle sien, hoor wat hulle hoor, voel wat hulle voel, om ons iets te laat beleef van hul belewenis, van daardie eerste gewaarwording dat God se koninkryk kom en gekom het. Hulle vertel dat hulle aangegryp is, sodat jy ook aangegryp voel; dat hulle in beweging gebring is, sodat jy geroer word. Hul vertelling word ons eie ervaring. Ons beleef hoe dit met hulle gebeur het as dit met ons gebeur!  Aangegryp deur die storie, bely ons saam met hulle: Ons het God gesien! Met ons eie oë. Hy was hier, hier by ons! Wat eers net hoorsê was, weet ons nou uit eie ondervinding! Hierdie storie – hul visie en God se evangelie – word my en jou visioen van God.

Gesang 342

Ds Jacques Pieterse, Laer Suidkus

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link