Matteus 2: 16-18 

Die verskillende tydsones in die wêreld beteken dat die tyd verskillend is op verskillende plekke in die wêreld. Dit het tot gevolg dat wanneer jy oorsee vlieg, jy somtyds jou horlosie se tydlesing vorentoe of agtertoe moet draai. Die tyd is dus nie oral in die wêreld dieselfde nie.

Terwyl die wyse manne opgewonde is oor die Koningskind se geboorte, is Herodes so ontsteld oor die nuwe koning se geboorte dat hy al die seuntjies van twee jaar en jonger laat doodmaak. Die vreugde van Jesus se geboorte bring smart en verdriet in baie huise. Jesus se geboorte wat ’n tyd van vreugde en vrede  moet wees, is ook ’n tyd van hartseer. Omdat koning Herodes nie geweet het waar om Jesus te kry nie, het hy al die seuntjies van twee jaar en jonger laat doodmaak.

Vandag is dit ook so. Kersfees is ’n vreugdetyd, maar ook ’n tyd van treur. Die misverstaan van die betekenis van Christus se geboorte maak van Kersfees ’n hartseer tyd. Vir baie mense is Kersfees ’n tyd van vakansie hou, van partytjie hou, van lekker eet en baie drink. Vir baie is Kersfees ’n hartseer en alleentyd, ’n tyd sonder familie en ’n tyd van verlange. Dit maak ’n mens baie hartseer as jy besef dat Kersfees maar net nog ’n vakansiedag geword het.

Die gekerm ná die moord op die seuntjies, word vandag ons gekerm weens die dood as gevolg van mense se hardkoppigheid. Ons treur vandag oor die gebrek aan insig om die betekenis van Christus se geboorte te verstaan. Met die genade van Christus beweeg die horlosie vir gelowiges verby die tyd van treur na ’n tyd van vrede en vreugde. Mag ons hartseer tyd tog ook ’n tyd van genade en blydskap wees.

Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas

af
af
Copy link