Lukas 13: 1-5

Jesus se woorde in Lukas 13 is harde woorde. Ons wil nie graag hoor van die oordeel oor die sonde nie, of dat ons uitgelewer is aan ons sondetoestand en daarom tot God moet bekeer nie. Maar Jesus se bedoeling wanneer Hy hier oor bekering praat, is nie dat ons die Skrifgedeelte moet reduseer tot ’n hemel-teenoor-hel-teologie nie. Ons moet dit eerder lees teen die agtergrond van Jesus se weg na die kruis.

In Lukas 13 kom daar mense na Jesus toe en vertel vir Hom van ’n voorval waar Pilatus ’n groep pelgrims van Galilea laat doodmaak het. Daar word nie verder inligting gegee oor wat presies by die voorval gebeur het nie, maar ons kan aflei dat hierdie mense onskuldig gesterf het. In sy antwoord verwys Jesus na ’n tweede, soortgelyke geval as dié van die Galileërs. Die toring van Siloam het ineengestort en 18 mense is in die voorval oorlede. Ook hierdie mense wat so omgekom het, was onskuldig. Die eintlike kwessie waaroor die mense wonder, was of daardie mense se (onskuldige) dood die gevolg van straf op hul sonde was.

Dit gaan in hierdie voorbeelde oor ons verstaan van sonde en bekering. Jesus demonstreer dat teëspoed en tragedie nie die gevolg is van straf op sonde nie. Tragedie moet nie gelykgestel word aan Goddelike straf nie. As iets sleg of tragies met iemand gebeur, is dit nie omdat God hulle straf nie. Ongelukkig is swaarkry, onregverdigheid en tragedie deel van die lewe op aarde. Sulke gebeure bring ’n mens eerder diep onder die indruk van die broosheid en nietigheid van die menslike bestaan. Juis op grond van die feit dat ’n mens se lewe enige oomblik kan eindig, roep Jesus die mens op tot bekering.

In die lig van Lydenstyd word Jesus se woorde in Lukas 13 ook vir ons ’n dringende oproep om ons tot God te keer. Wanneer ’n mens leef met die bewustheid van jou eie sterflikheid, kan jy nie anders nie as om jou tot God te keer as die bron van Lewe.

Ds Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom

Share via
Copy link
Powered by Social Snap