Lukas 9: 57-62

Ons gaan die volgende paar dae kyk na Lukas se weergawe van Jesus se reis na Jerusalem, waar sy lydensweg gaan eindig met sy arrestasie, kruisiging en opstanding. Ten minste een van Jesus se dissipels verklaar entoesiasties dat hy bereid is om Hom te volg ongeag waarheen dit lei en wat dit inhou. In Lukas 9: 23 maak Jesus egter bekend dat dit lyding, selfverloëning en kruis opneem inhou om Hom te volg. Hierdie opofferinge is buitendien nie die gevolg van menslike entoesiasme nie, maar dui op ’n roeping van God. Om geroep te word, is wel genade, maar nie goedkoop nie.

Kruisdra neem verskillende vorme aan. Hier gaan dit om vreemdelingskap, om nie tuis te wees in die wêreld nie. Vir Jesus is daar eintlik geen plek in die wêreld nie, immers nie ’n plek wat die mense Hom gun nie; met sy geboorte nie ’n plek in die herberg nie, en later verwerp die mense van sy tuisdorp Nasaret Hom (vgl Luk 4: 28-30). Hier in die Samaritaanse dorp sluit hulle hul deure vir Hom, en Herodes soek Hom om Hom dood te maak (Luk 13: 31). Sy pad na Jerusalem loop uit op sy arrestasie en kruisiging.

Jesus se uiteindelike verhoging gaan egter deur die proses van vernedering. Hy word verneder en verag. Dit alles ter wille van ons verlossing en om ons op te roep om Hom te volg. Dit bring ons tot die besef dat ook ons eintlik vreemdelinge in die wêreld is. Vir ons amper ’n teenstrydigheid, want die wêreld is al wat ons ken, vir ons is dit die werklikheid. Dit is waar ons tuis is en waar ons min of meer weet wat om te doen om te oorleef. En tog weet ons dit is tydelik, iewers eindig dit. Ook ons, as volgelinge van Jesus, behoort te besef dat sy pad na Jerusalem bepalend is vir ons geloof. Alhoewel ons ook vreemdelinge in die wêreld is, is dit gehul in die sekerheid van verlossing.

Ds Dries Beukes, Emeritus/Swartkop

af
af
Deel met behulp van
Copy link