Lukas 4: 1-13  (Die Bybel 2020)

Wanneer ons aan die lyding en opstanding van ons Here Jesus Christus dink, besef ons weer eens watter groot rol die Bybel in die oordra van hierdie belangrike boodskap speel. Die Woord van God is ’n bron van geestelike krag wanneer ’n mens die een of ander vorm van lyding in die lewe ervaar.

Jesus Christus het dit self ook beleef. Sy versoeking in die woestyn was ’n voorbereiding vir die lydensweg wat op sy pad sou kom. Hy het by hierdie geleentheid telkens uit die Ou Testament, die deel van die Skrif wat aan Hom goed bekend was, aangehaal.

Ons moet verwag dat daar allerlei aanslae in die lewe op ons pad sal kom. Dit is deel van die lewe. En dit verskerp gewoonlik wanneer ons besig is om geestelik te groei. Ons kan so stoei om te oorleef dat ons nie tyd maak om te bid en uit die Bybel te lees nie. Ons kan so maklik opgeslurp raak deur die najaag van aardse roem en rykdom. Ons vergeet so gou dat ons eintlik hier op aarde is om God te verheerlik en nie om God net te wil gebruik wanneer ons Hom nodig het nie.

Wanneer ons dus in vandag se lewe swaarkry of ly, kan ons dit beskou as geleenthede om geestelik te groei. In sulke tye bly die Bybel ’n instrument waardeur God ons troos en aan ons nuwe hoop en krag gee. Mag jy ook die krag van God se Woord ervaar wanneer jy beproef word.

Dr Gerhard Lindeque, Bybelgenootskap van Suid-Afrika

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link