Psalm 91

Om in die skuiling van die Allerhoogste te woon, vereis ’n houding van voortdurende bewustheid van die Here se teenwoordigheid en betrokkenheid in ons lewe. Psalm 91 bevestig die bevryding van en beskerming vir gelowiges wat daagliks die nabyheid van God opsoek. As ons ons lewenswandel met Hom volhou, kan ons op Hom reken wanneer uitdagings en moeilike tye in die lewe ons bedreig. Die Psalmdigter sê nie net dat die Here ’n skuiling en ’n toevlug sal voorsien nie. Inteendeel, hy sê vir die Here: U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou (Ps 91: 2). Dit is in Hom alleen dat ons rus en beskerming sal vind. Hierdie toevlug word in vers 4 beskryf: Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ’n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante.

As jy hierdie God en hemelse Vader in Christus ken, kan jy ook weet dat jy onder alle omstandighede nie alleen is nie, en dan kry jy ook die moed om uitdagings die hoof te bied. Dit is ’n verklaring, ’n getuienis, ’n uitdrukking van geloof, maar dit beteken nie dat niks sleg met jou kan gebeur nie en dat jy altyd pyn- en sorgvry deur die lewe sal gaan nie. Om in God te glo, beteken dat jou lewe en perspektief verander. God is magtiger as die uitdagings en moeilike tye wat jou bedreig en jou dikwels ’n speelding of slagoffer van jou omstandighede maak. By God is daar altyd hoop en uitsig. Hy sal seker maak dat die omstandighede waaronder jy ly, jou nie sal onderkry nie.

Psalm 91 is egter nie ’n suksesresep vir ’n maklike lewe nie. Eerder ’n uitnodiging, ’n appèl en ’n oproep om God met jou hele lewe te vertrou. Vertroue op God bevestig jou sekerheid dat jou lewe en jou toekoms deur die almagtige allerhoogste God beskerm word.

Dr Rudy Denton, Potchefstroom-Studente

af
af
Deel met behulp van
Copy link