1 Samuel 16: 1-13

Soms voel dit asof God afwesig is. Soms is dit moeilik om God se genade in jou lewe raak te sien. Ons moet daarteen waak om net ’n kopgeloof te hê. Ons moet ook met ons hart glo.

Die gelese verhaal wys ons daarop dat ons lewens eintlik maar ’n poort is waardeur God se genade vloei. Dink maar vir ’n oomblik aan Dawid. Sy hele lewe word vir ons deur verhale ontsluit. Sy lewe wys vir ons watter rol God in sy lewe gespeel het, wanneer dit goed gegaan het, maar ook wanneer Dawid sy diepste duisternis beleef het. ’n Mens kan met wêreldse oë na iemand kyk, of met die oë van God, met ander woorde, met ons hart. Ons wonder baie keer: Waar is God in my lewe?

Geloof beteken nie om al die reëls te ken nie, maar om ’n hart vir die lewenspel te hê. ’n Hart wat dalk moet besluit: Kom ek wees die minste, en vergewe; kom ek deel liefde uit; kom ek probeer met die genade van die Here die spiraal van gebrokenheid genees. Ek gaan vir die Here ’n priester wees en iemand by die Here uitbring. My lewe is ’n poort vir God se genade; ek gaan in my lewe kyk deur die oë van die Here; met ander woorde, deur die hart van God.

Wat sien jy? Die Here God is die Gans Andere, wat anders dink, maak en optree as mense. God alleen is volmaakte vreugde en vrede; Hy alleen is die Bron van jou lewe; Hy laat sy genade deur jou vloei.

Gebed

Here, kom vul my lewe. Maak my vol met u genade en liefde.

Ds Jasper van der Westhuizen, Randfontein Midpark/Westonaria

af
af
Deel met behulp van
Copy link