Handelinge 2: 43-47

Die Heilige Gees was aktief besig in die gemeenskap van gelowiges. Deur die werking van die Heilige Gees het die apostels wonders en tekens gedoen, soos dit voorspel is in Markus 16: 17. Die wonders en tekens is om die Heilige Gees se werking bekend te maak.

Die gelowiges het ook anders opgetree teenoor mekaar omdat hulle onderling aan mekaar verbonde was. Hulle was die gemeenskap van gelowiges wat saam onderrig is deur Petrus, wat as gelowiges byeenkomste saam bygewoon het. Dit is in hierdie gemeenskap dat gelowiges saam kan groei in hul verhouding met God, saam kan aanbid, saam meer omtrent God se woord kan leer. Daar het ’n splinternuwe band van liefde tussen hulle bestaan. Vanuit die gemeenskap van gelowiges se verstaan van die gesin van God, dat hulle mekaar se broers en susters in Christus is, het hulle mekaar ook meer begin ondersteun en versorg. So word hulle gelei om hul besittings en alles wat hulle het, met mekaar te deel.

Deur mekaar te ondersteun, te versorg en alles met mekaar te deel, leef ons hoop uit teenoor mekaar, gee ons vir mekaar hoop. Hoop is vir ons die verwagting dat iets goeds gaan gebeur. Wanneer gelowiges leef in die gemeenskap van gelowiges, waar hulle liefdesbande uitleef, word gelowiges se vertroue gestel in die hoop wat onderling uitgeleef word. Ons word geroep om saam met die Heilige Gees te werk om hoop uit te leef aan dié wat hopeloos is, aan dié wat hoop nodig het. Ons as Christene werk saam met die Gees om vir ander hoop te gee. Wanneer ons die werke van die Heilige Gees ervaar, raaksien en uitleef aan ander, word hoop uitgeleef.

Gebed

Gees van God, laat ons vandag u werke raaksien. Laat ons raaksien waar ons vandag saam met U hoop kan uitleef, nie net aan my geloofsfamilie nie, maar aan elke persoon. Amen.

Ds Natasha Smit, Nelspruit/Barberton

Share via
Copy link
Powered by Social Snap