Matteus 14: 22-32

Die eerste reël van navigasie op die oop see is om enige posisie van jou skip op enige gegewe tyd te kan bepaal. Ons het ’n verwysingspunt nodig wat ons in staat stel om ons posisie op die aarde in verhouding tot die sterre te bepaal. Op die oop see is die verwysingspunt in die Suidelike Halfrond die Suiderkruis. Die langste punt van die Suiderkruis word vier en ’n half keer na die horison verleng om ongeveer die rigting suid aan te dui. Die vaste punt is nie jou verwysingspunt vanwaar jy die Suiderkruis waarneem nie, maar jou oriëntasie teenoor die Suiderkruis. Die Suiderkruis verander nie, maar jou persoonlike koördinate en oriëntasie daarteenoor is die veranderlike.

Jesus van Nasaret is my en jou Suiderkruis. Dit is Jesus, ons helder Môrester (2 Pet 1: 19; Op 22:16), wat ons op koers hou. Christenwees is verhoudingwees. Die kernverhouding wat ons doen en late bepaal, is ons verhouding met Christus. Met ’n wêreld wat vinniger verander as die spoed van lig, is daar geen vaste horisonne nie, maar met ons oog gevestig op die Jesus-horison, het ons ’n baken wat ons lei op ons pad na elke nuwe bestemming. Verloor Christus uit die oog, en die seevaarder op die see van die lewe verdwaal. Toe Petrus sy oë van Christus afgehaal het, het hy begin sink (Matt 14: 30-31).

Wanneer ons uit die genade en liefde van Christus lewe, loop ons op water. Anders sink ons… leef ons in wanhoop en vrees vir die toekoms. Dink aan die opdrag in Kolossense 3: 2: Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie. Laat sy dinge weer vir jou belangrik raak. Ons weet dat ons ons altyd iewers op die spreekwoordelike oop see bevind. Soms is die water kalm, soms wil die golwe ons oorweldig. Wat die verskil maak tussen oorweldig voel en kalm word, is die feit is dat ons glo die Môrester, ons Suiderkruis, is altyd by ons teenwoordig. Hoe lyk jou verhouding met die helder Môrester, ons Suiderkruis?

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia/Bybelgenootskap van Suid-Afrika

af
af
Deel met behulp van
Copy link