Psalm 90

Waar is die jaar heen? Voor ons ons oë uitvee, is dit Kersfees. So praat ons dikwels. Dit voel of die tyd al hoe vinniger verbygaan. Maar tyd is mensgemaak. In die natuur wissel dag en nag, en die seisoene verander. Maar ure, minute, maande en jare is deur mense geskep om onsself te organiseer. Tyd is nie kort of lank, vinnig of stadig nie. Dit is ons wat betekenis daaraan gee.

Leer ons om op ’n wyse manier betekenis te gee daaraan, bid die gelowige. Die beste benutting van tyd is om te lewe soos God wil, want die lewe is kort. Dit gaan vinnig verby, soos gras wat verdor en blomme wat verwelk. Selfs die eeueoue berge, simbool van standvastigheid, is nie ewig nie. By die Vredefort-koepel sien ’n mens hoe die heuwels gevorm is toe die meteoriet die aarde getref het. Ons weet berge ontstaan as die aardplate teen mekaar druk. Hulle verander ook soos wat erosie plaasvind.

Maar God is ewig. Tyd het nie vir God betekenis nie. Wysheid is om te besef hoe klein ons voor God is. Dit is om realisties te wees oor die lewe: dankbaar oor die goeie, en te weet waar om krag te soek as dit moeilik gaan. Die digter bid om God se ontferming: dat daar soveel blydskap sal wees as wat daar swaarkry was – in gelyke mate. Balans.

’n Wyse lewe is gebalanseerd: dat ’n mens jou nie blindstaar teen moeilikheid nie, maar die goeie raaksien, daarop bou en dankbaar lewe. God se liefde gee perspektief. So kry die lewe balans. Om bewus te wees van hoe kort die lewe is, hoef ’n mens nie moedeloos te maak nie. Dit kan juis motiveer om die beste van ons tyd te maak. Die psigoloog Victor Frankl het sy grootste werk in ’n konsentrasiekamp gedoen. Hy skryf oor die sin van die lewe, liefde, werk en die dood. Omdat dit kort is, is die lewe kosbaar. Leef daarom ’n sinvolle lewe, sê hy in psigologiese taal. Dit is ’n wyse lewe in Bybelse taal.

Prof Yolanda Dreyer, Universiteit van Pretora

af
af
Deel met behulp van
Copy link