Johannes 1: 5

Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

In die Lydenstyd moet ons opnuut daaraan herinner word dat die duisternis nie die Lig kan uitdoof nie. In Johannes 8: 12 sê Jesus self: Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.

Daar word gereeld in die Bybel melding gemaak van lig. In Genesis is lig die eerste ding wat God skep (Gen 1: 3): Laat daar lig wees! Die son word eers op die derde dag geskep. Met ander woorde, God bring lig nog voordat Hy die hemelliggaam (die son) – wat eintlik lig gee – geskep het. Die simbool hiervan is hoop: God bring lig in ons donker wêreld.

Die Woord van God is die padkaart: Ons lees in Psalm 119: 105: U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. Dan kan ons ook nie anders nie as om saam met die digter in Psalm 27: 1 te sê: Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?

Op hierdie pad van die lewe is ons ook ’n getuie van die Lig: In Matteus 5: 16 roep Jesus ons op: Laat julle lig só voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik. Soos ’n lamp op ’n lampstaander geplaas moet word om lig aan die hele vertrek te gee, skyn ons ons lig aan die wêreld deur ’n lewende geloof in God, die Lig.

In Openbaring 21: 23 lees ons wéér van God as die Lig: Die nuwe Jerusalem het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. Van die begin tot die einde is en bly God die Lig.

Daar is dus hoop vir die toekoms. Daar is lig. God is die lig. Lewe in die lig. En laat jou lig skyn…

Ds Rudi Janse van Rensburg, Weltevreden

Share via
Copy link
Powered by Social Snap