Psalm 77

Het jy ook al gevoel asof jy gewoon net nie goed genoeg is nie? Nie goed genoeg dat God enigsins na jou gebede sal luister nie? So asof Hy sy rug op jou draai?

Dit het die digter van Psalm 77 beleef. Tog neem hy sy toevlug tot God, en hy dink na oor ’n klomp dinge. Toe hy nie sy probleme kon reg dink nie, begin hy vergelykings maak tussen die hede en die verlede. Hy maak ’n keuse: In plaas daarvan dat hy homself vasdraai in sy eie vrae, kies hy om liewer aan God en sy genadedade te dink. Die gevolg is dat hy ontdek hoe wonderlik God werklik is. Daarom, in plaas van kla oor sy eie nood, praat hy met lof van God se heiligheid en grootheid, van sy wonderdade en sy mag oor die volke, van sy krag waardeur Hy Israel en sy nageslag gered het. In plaas van tob en energie mors oor onbeantwoorde vrae, herinner hy homself aan hoe God sorg; die groot reddingsdade wat God in sy volk se geskiedenis gedoen het.

In hierdie seisoen van die kerkjaar fokus ons op die lydensweg van Jesus Christus – die reddingsdade van God in Christus waarvan die Psalmdigter nie geweet het nie. Jesus se eensame worsteling en lydensweg in Getsemane en op Golgota. Watter troos om te weet dat God se belofte steeds geld! Daardie gevoel van nie goed genoeg wees nie of Godverlatenheid wat jy dalk nou beleef, sal verdwyn. God is immers daar, altyd en oral. Laat ons dus nou, soos die digter, nadink oor al God se werke in en deur Christus. Wanneer ons oor sy reddingsdade peins, laat ons Hom loof en prys uit dankbaarheid.

Ds Kathleen Smith, Kaapstad

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link