Psalm 131; 2 Korintiërs 12: 6-10
Ons het gister gesien dat wysheid ook iets van God se misterie insluit en dat wysheid neerkom daarop dat ons berus in sy misterie, dat ons in nederige afhanklikheid voor God lewe. Hierdie is ook die tema wat ons in die twee gedeeltes van vandag vind.
In die kort Psalm 131 hoor ons hoe die digter in alle opsigte breek met hoogmoed en hom in totale oorgawe – soos ’n kind by sy moeder – aan God wy. Met die lees van hierdie gedig kan ’n mens nogal die beeld sien wat die digter gebruik – soos ’n klein kindjie wat geen ander behoeftes het as om by sy/haar moeder te wees nie, wat weet dat wat ook al gebeur, wat hy/sy ook al nodig mag kry, die moeder sal voorsien, so erken die digter sy afhanklikheid. Die digter beklemtoon dat hy aan geen grootheidswaan sal vasklou nie, want God voorsien – hy vertrou volkome op Hom.
In 2 Korintiërs 12 sien ons dat Paulus ook begin deur alle vorme van hoogmoed en selferkenning prys te gee. Hierdie is die bekende gedeelte van die “doring in Paulus se vlees”. Paulus sê dat hierdie uitdaging wat hy in sy lewe het, daar is om hom nederig en afhanklik te hou. Al het hy God gesmeek om dit weg te neem, moes hy hoor: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring (vers 9). Wanneer ons swak is, is ons juis sterk omdat ons dan op God se krag steun.
Ons leef in tye waar selfverheffing en selfverheerliking aan die orde van die dag is. Mense word erken vir hul prestasies. Natuurlik is daar nie fout daarmee dat harde werk beloon word nie, maar daar is ’n fyn lyn tussen erkenning en selfvoldaanheid. Wanneer ons nederig en afhanklik voor God lewe, besef ons ook dat alle prestasies slegs genade is – onverdiende guns alleen!
U hulp, u liefde onbegrens laat my van vreugde juig;
U deernis met ’n dwase mens laat my eerbiedig buig.
Genade so oneindig wyd – U skenk dit weer en weer.
Dit is die hoogste heerlikheid dat U my liefhet, Heer.
(Gesang 506: 2, 3)
Prof Ananda Geyser-Fouché, Universiteit van Pretoria
