Psalm 121
Ons is besig om na te dink oor ons beskrywing as soekers wat nie vind in die lied Kinders van die wind. As ons beskryf word as “soekers wat nooit vind”, is die vrae: Hoekom vind ons nie? Wat doen ons verkeerd dat ons nie vind nie? Soek ons op die verkeerde plekke? Hoe soek ons en wat soek ons?
Psalm 121 is ’n bekende pelgrimslied waarin ons lees hoedat die pelgrim soekend opkyk na die berge en vra waar sy hulp vandaan sal kom. Hy is soekend na hulp. Aan die een kant is hy onseker oor die berge en watter gevare daar kan skuil op die berge waar hy moes oorgaan. Hy is bang en onseker omdat rowers dikwels op die bergpasse geskuil het en gewag het om mense te beroof. Die onsekerheid wat wag op sy terugtog van die tempel af, laat hom soek na hulp. Daar was ook ’n bygeloof dat afgode in die berge bly, en nou moet hy oor die berge gaan. Hy is onseker oor dit wat op hom wag.
Hoe soek ons hulp in ’n onsekere en deurmekaar omgewing? Soos die pelgrim moet ons opkyk na die Here. Ons moet ons hulp, krag en leiding by die Skepper van hemel en aarde soek. Ons moet met ons oë op die Here gerig, soek en vra vir hulp en krag. Ons hoop en genade is by die Here wat Skepper is en wat nie soos die afgode somtyds slaap nie. God is die troue Skepper, maar ook ons Vader wat in liefde sorg en versorg.
Ons lees in Lukas 11: 9 dat Christus ons aanspoor om te vra en te soek, met die belofte dat ons ook sal vind. Die belofte van Christus is dat Hy in genade sal voorsien wanneer ons volgens sy wil vra. Ons soektog begin met ons oë wat gerig is op die Here en die belofte in ons ore dat Hy sal voorsien.
Mag die Here jou gebede verhoor en vir jou vrede gee.
Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas