Jesaja 7: 1-17
Hierdie baie bekende gedeelte is deel van die sogenaamde “boek van Immanuel” (Jes 6-12). Dit begin met Jesaja se roepingsvisioen (Jes 6) en eindig met ’n ontroerende dank- en loflied van die verlostes in Jesaja 12. Tussen hierdie twee pole lees ons van die Here se worsteling oor wat Hy met sy ontroue verbondsvolk moet doen. Aan die een kant lees ons van die profetiese verkondiging wat uitloop op verharding. Aan die ander kant die vreugde van die uiteindelike eskatologiese heil. En hierdie eskatologiese heil is die eindpunt en wonder van God se soewereine genade wat ten spyte van die mens se teenstand triomfeer. Hier in Jesaja 7 begin die oordeel maar ook die heil geleidelik deurskemer. God gaan sy volk straf en daar gaan maar ’n klein groepie oorbly. Hierdie feit word natuurlik in vers 3 bevestig in die naam van Jesaja se seun, Sear-Jasub, wat beteken ’n oorblyfsel keer terug.
En tog is daar hoop. Hoop en heil word hier geskets teen die agtergrond van ten spyte van. Ten spyte van die insigloosheid van die sonde en die aankondiging van oordeel oor die volk, sal êrens in die toekoms ’n nuwe dag, ’n dag van hoop en heil, aanbreek. Vir ons as Christene het daardie dag met die geboorte van Jesus Christus aangebreek. Vir ons word dit mooi verwoord in die woorde van die engel aan Josef in Matteus 1: 21 en 23: “Sy sal ’n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” En: “Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.
Ons dag van hoop, van heil, het ten spyte van ons sondige aard aangebreek toe Jesus vir ons mens geword en uiteindelik aan die kruis gesterf het. Mag hierdie wete ons ook in hierdie Adventtyd help om met vreugde en blydskap te leef, want ons was, soos die lied dit so mooi stel, verlore, maar gevind. Ons het ten spyte van wie en wat ons is, ’n tweede kans gekry.
Ds Willem Sauer, Waterberg