Klaagliedere 3: 39-42

Hulle staan en kuier om ’n braaivleisvuur. Op die kole is van die duurste snitte vleis en groot hoeveelhede daarvan. Buite staan luukse voertuie wat honderde duisende rande werd is. Almal is geklee met duur klere en juwele.

Albei groepe kla oor hoe sleg dit met húlle én in die land gaan. Ons dink mos maklik aan alles wat dalk verkeerd kan loop en ons dink aan tekorte wat dalk eendag deel van ons lewe sal wees. Ons is mos geneig om te kla. Ons het trouens ’n klakultuur ontwikkel. Ons het ’n sê-nou-maar-kultuur ons eie gemaak. Niks is genoeg of goed genoeg nie. Nie dit wat ons besit nie, nie die dienste wat ons kry of nie kry nie. Nie die mense of strukture om ons nie.

Jeremia kom na die volk en vra mooi dat hulle, in stede van kla, hulself eerder deeglik moet ondersoek. Hulle moet eerder seker maak dat hul lewens nie op die verkeerde pad is nie. Die volk het dikwels al brommend en klaend by die Here opgedaag om beter omstandighede en meer dinge te eis. Jeremia bring hulle terug aarde toe en vra dat hulle eerder moet kyk na wat hulle bied – wie is jy en wat beteken jy vir God en sy koninkryk én vir jou medemens? As jy dan vasgestel het dat jy nie so volmaak is nie – want dit is presies wat jy sal agterkom, meen Jeremia – raak dan nederig voor God en vra om vergifnis.

Om jou so te bekeer, beteken verder dat jy dankbaar sal wees vir wat jy wél het en sal ophou om te kla oor wat jy nié het nie.

Gebed

Here, help ons om nederig en afhanklik te wees. Help ons om dankbaar te wees vir die rykdom, geestelik en materieel, waarmee U ons almal oorlaai. Amen.

Ds David Barnard, Magaliesmoot

Share via
Copy link
Powered by Social Snap