(Hervormingsfees)

Psalm 61: 1-6

Soms het Ou-Testamentiese gelowiges hulle op nie-Israelse, vreemde grondgebied bevind. Dit voel soos die “einde van die aarde”, oneindig ver van God af. Wanhoop tree dan maklik in, soos Psalm 61: 3 getuig. So iemand bid met ’n harde geroep na God wat ver is, wat kwalik sal hoor…

Vyande van die een of ander aard bedreig die bidder. Dit kon misdadigers gewees het, of vyande van ’n meer persoonlike aard, of militêre vyande. Hoe ook al, hy voel weerloos en boonop ver van God. Tog gee hy nie moed op nie, hy bid, hy roep hard na God! Hy bid vir uitkoms: Bring my op ’n rots waar ek veilig sal wees.

Dan gebeur die vreemde, of liewer, dan laat God die vreemde gebeur: Die bidder se wanhoop verdwyn en hy bely sy geloof! U is vir my ’n toevlug, ’n sterk vesting buite bereik van die vyand. Vanuit hierdie vertroue bid hy dat hierdie geborgenheid altyd sy deel sal wees: dat hy by God ’n blywende tuiste sal vind en veilig by God sal kan skuil, soos kuikens veilig onder die hen se vlerke skuil.

Kenmerkend van die Ou-Testamentiese geloof, reken hy op sy geloftes wat hy nakom en dat hy God se Naam eer. Dit is vir hom die grond van sy gebed en sy vertroue. Psalm 61 het waarskynlik later die formele gebed geword vir die koning wat oorlog maak teen vyande op vreemde grondgebied (vgl verse 7-9 as moontlike latere byvoeging), met die onderneming deur die koning om God daarvoor te eer en sy geloftes te betaal.

Jesus het ons anders leer bid. Hy het ons geleer om God met vertroue aan te spreek as Vader! – op grond van sy selfprysgawe aan die kruis, nie ons verdienste nie. Wie en wat ons waar ook al mag bedreig, hoe weerloos en onverdienstelik ons ook al mag wees, Jesus waarborg: God is nooit ver nie. Ons hoef nie hard te roep sodat God moet hoor nie. Ons hoef nie wanhopig te wees nie. God bly ons toevlug, Hy wat deur sy Gees by ons tuisgekom het.

Gesang 266

Dr Gert Malan, Mosselbaai

af
af
Deel met behulp van
Copy link