Markus 4: 35-41

Dit is maklik om angstig te word as ons na ons gemeentelike situasies kyk. Dit is so dat elkeen sy eie uitdagings het. Dit kan finansieel, emosioneel of bloot iets soos gesindheid wees. Dit is dalk nie net op die Kerk van toepassing nie, maar op elke individu se lewe ook. As dinge begin skeefloop of uitdagend raak, kan ons gou begin wonder of hierdie nou die einde is. Stres is ’n woord wat ons deesdae met gevoel kan uitspreek!

Jesus is rustig saam met die dissipels in die boot. Hy slaap. Aan die begin van die reis sê Hy reeds vir die dissipels: Kom ons gaan na die oorkant. Daar leef nie spanning by Hom oor die weer of ’n moontlike storm nie. Alhoewel hulle eindelik aan die ander kant sou uitkom, was daar nie ’n waarborg dat hulle geen teenstand sou ervaar nie. Die dissipels begin stres as die storm tref, en Jesus laat later die storm bedaar. Jesus noem hulle kleingelowiges, nie omdat hulle die storm té ernstig opgeneem het nie, maar omdat hulle totaal vergeet het dat Jesus aan boord was en omdat hulle sy mag onderskat het.

Waar God belowe om te bestuur en te beheer, kan ons daarop reken. Hy belowe onder andere om sy kerk in stand te hou. Sy handelinge mag dalk anders lyk as wat ons in gedagte het en dit mag dalk wees dat die uitdagings anders lyk as wat ons verwag het, maar die belofte is steeds dat God die kerk in stand sal hou. Wat God gesê het, sal God doen. Ons kan rustig raak en vir ’n slag kyk na wat God in die storm doen eerder as om verblind te word deur ons eie angs.

Kan jy jou net indink hoeveel anders ons sal optree as ons maar net vertrou op dit wat God beloof het? God stres nie, hoekom moet ons?

Ds Thomas Dreyer, Malelane

Share via
Copy link
Powered by Social Snap