Jeremia 29: 4-14a en 33: 1-3

Ons hemelse Vader verwag nie net van my en jou om sy kind in hierdie wêreld te wees sonder om ons in staat te stel om sy werk te doen nie. Vandag kyk ons na ’n belofte wat God aan Jeremia gemaak het en wat ook vir ons hoop en troos in hierdie wêreld sal gee. Jeremia is in arres in die binnehof van die tempelwag. ’n Kort tydjie gelede het die Here hom belowe dat Hy weet wat Hy vir die volk beplan. Hy beplan vir hulle voorspoed en nie teëspoed nie, ’n toekoms, ’n verwagting. Hy sal hul gebede verhoor en aan hulle sy wil bekend maak daar waar hulle in ballingskap is. Jeremia moet die volk moed inpraat en hulle oortuig om hulle tot God te bekeer.

Hier aan die begin van Jeremia 33 praat God die Vader nou met Jeremia. God gee hom ’n opdrag en ’n belofte. In die Afrikaanse Bybel vir almal lees ons in vers 3: Jeremia, jy moet tot My bid, dan sal Ek jou antwoord. Ek sal jou groot geheime vertel wat jy nie geweet het nie.

Waar ons nou aan die einde van nege dae se saamloop as dissipels van die Here kom, wil God ook vir my en jou met hierdie belofte die wêreld instuur. Om dissipel te wees, is nie altyd die maklikste ding op aarde nie. Die aanslae op ons is groot. Partymaal voel dit of ons soos Jeremia magteloos en ingeperk is. Juis op daardie oomblikke gee hierdie woorde van God aan Jeremia vir ons hoop. Die Here God sê ook vir ons as Jesus se dissipels: Bid tot My! Ek sal jou gebede verhoor! Ek sal geheimenisse aan jou bekendmaak.

Vertrou die Here op jou pad as dissipel. Loop op die spreekwoorde-like see, want Hy roep jou, Hy stuur jou. Doen dit in die wete dat Hy jou belowe dat Hy jou gebede sal verhoor, ja vir ons as sy volgelinge die geheim van die evangelie van God se genade in en deur Jesus Christus sal vertel.

Dankie, Here, dat ek u dissipel mag wees. Amen.

Ds Willem Sauer, Waterberg

af
af
Deel met behulp van
Copy link