1 Korintiërs 13

Eensgesindheid onder gelowiges is nie altyd ’n gegewe nie. Ons leef in spanningsvolle tye wat dikwels daartoe lei dat gemoedere ontvlam en juis tweespalt in bepaalde geloofskringe veroorsaak. Die stof wat lidmate van die kerk aanmekaar bind, aldus die apostel Paulus, is liefde. Liefde is die band wat daarvoor sorg dat twee treinspore, hoewel albei unieke merke vertoon, steeds parallel aan mekaar die toekoms in kan beweeg. Die Skrifgedeelte stel dit ook duidelik hoe die dwarslêers wat die spore aan mekaar hou, in wese lyk.

Wanneer ons die fynere besonderhede van hierdie liefde bestudeer, en woorde soos geduld, vriendelikheid, en in wese nederigheid opduik, dan is dit duidelik wat ’n gemeente aanmekaar gebind hou. Die band lê daarin dat ons die vermoë sal ontwikkel om buite ons eie belange op te tree en te funksioneer. Mý behoeftes, mý ego, mý stand of posisie binne die bedieningsveld skuif op die agtergrond. Dit moet plek maak vir die welsyn en die voorspoed van die geheel. God se gemeente, let wel sý gemeente, nie myne of ons s’n nie, floreer slegs in ’n wêreld waar eiebelang nie meer oorheers nie.

Elkeen het wel unieke gawes. Sommige kan profeteer – hulle kan dus hul ore by God se mond hou om ’n boodskap te hoor en dan daardie boodskap aan ander oordra. Sommige het kennis en ander kan weer moeilike boodskappe uitlê. Hierdie gawes het net tydelike waarde en betekenis. Dit kan ook net ’n grepie van die waarheid beethê. Ons ken aldus die Skrifgedeelte immers slegs ’n deel van die waarheid. God se wese en sy betrokkenheid by ons vertoon tog baie dimensies. Wanneer ons hierdie gawes in ’n gees van liefde gebruik en wel met die groei van God se koninkryk in gedagte, dan het dit standhoudende waarde. 

Gebed

Here, lei ons om deur u genade in afhanklikheid en nederigheid te dien en alle selfbelang te laat vaar. Amen.

Ds David Barnard, Magaliesmoot

af
af
Deel met behulp van
Copy link