Kolossense 3: 12-17

Kolossense 3: 12-17 hou vir ons ’n breë strategie voor met ses beginsels wat ons in ons eie situasie so moet toepas dat ons die Here daardeur dien. Die eerste beginsel is vergifnis en genade: Hoekom iemand vergewe wat jou kwaad aandoen? Want dit is wat Christus met ons kom doen het. Haat en vasklou aan die kwaad van die verlede is soos kettings wat jou vasbind en terughou. Maak jou los daarvan deur te vergewe en genadig te wees, want dis hoe jy heel word en vorentoe beweeg.

Die tweede beginsel is liefde. Dit is God se liefde vir mense wat ons moet aanspoor en motiveer tot liefdevolle diens in Jesus se Naam. Om lief te hê, is om aan ander waarde toe te ken en hulle menswaardig te behandel. Die derde beginsel is vrede – God se vrede wat ons tot rus bring al verander ons omstandighede nie. Ons moet leer om vrede te maak met dit wat ons nie kan verander nie, en ons aandag bepaal by dit wat ons ten goede kan verander en waar ons ’n positiewe invloed kan hê.

Die vierde beginsel is ’n belangrike een: Dankbaar-wees, bly ons grootste motiveerder. Wees dankbaar in jou lewe en sien hoe dit jou gesindheid, jou uitkyk en jou motivering verander. Begin by die klein dingetjies waarvoor ’n mens dankbaar kan wees. As jy sukkel om dit reg te kry, maak ’n lysie. Kyk ’n slag weg van jou bekommernisse en verheug jou in die mooi dinge wat jy om jou raaksien.

Die laaste twee beginsels gaan hand aan hand: om die Bybel as Woord van God te koester en te ontgin, en om te onthou dat jy een van Jesus se gestuurdes is. Ons moet ons hele lewe – al die fasette daarvan – onder Jesus se heerskappy stel en onsself instel om elke dag so te leef.

Gebruik hierdie strategie as ’n vertrekpunt: Konsentreer op een van die beginsels op ’n slag, en sodra jy voel dat jy dit beter toepas, beweeg na die volgende een. Vra die Gees om insig en volharding en ervaar dat dit moontlik is om te groei in insig en toewyding.

Ds Heloïse Herbst, Rietvallei

Share via
Copy link
Powered by Social Snap