Lukas 19: 11-27
Ons verstaan die gelykenis van die muntstukke gewoonlik soos volg: God deel aan elkeen van ons gawes en talente uit, en ons moet daarmee woeker. Ons moet dit vermeerder. Al vra dit hoeveel inspanning. Want vir harde werk sal jy beloon word. As jy baie hard werk, sal jy dalk soos die eerste of tweede slaaf wees wat onderskeidelik van een muntstuk tien of vyf muntstukke gemaak het – duidelik die twee helde van die storie. Maar moet net nie soos die derde slaaf (die swartskaap) lyf wegsteek nie. Want dan gaan jy niks gedoen kry nie. God gaan nie met jou gelukkig wees nie, want jy was lui. So, rol die moue op, en doen wat jy moet. Want alleen dié wat insit, sal uitkry. En miskien, net miskien, sal jou een muntstuk sommer lekker tien word. Dit is wat sukses beteken!
Die eerste hoorders van hierdie gelykenis het heel waarskynlik die gelykenis anders gehoor. Die adellike man in die gelykenis was een van dié wat die kleinboere in die tyd van Jesus uitgebuit het. Hy was, soos die gelykenis hom beskryf, een wat opeis wat hy nie belê het nie, en oes wat hy nie gesaai het nie. Hy was dus een van die rykes met mag wat belasting van ander geëis het (hy oes wat hy nie gesaai het nie), en lenings aan kleinboere gegee het met geld wat hy onwettig bekom het (hy eis op wat hy nie belê het nie). Deur van een muntstuk vyf of tien te maak, beteken dat die twee slawe hul eienaar gehelp het om ander onregverdig uit te buit. Hulle het dit so goed gedoen dat hulle net daar aangestel is om die belasting van vyf en tien stede in te samel.
Die derde slaaf was egter nie bereid om aan hierdie uitbuiting van ander deel te neem nie. Soos die voorskrifte van die wet van hom vereis, bêre hy die muntstuk in ’n doek, en besorg dit veilig terug aan die adellike. Hieroor kry hy raas, hy word ongewild gemaak, maar hy gee nie om nie. Hy sal nie so optree dat ander verontreg en uitgebuit word nie.
Tree ek en jy altyd ook so op?
Prof Ernest van Eck, Emeritus/Kanada
