Johannes 8: 3-11
Ons weet dat Christene deesdae meer as ooit tevore vervolg word. Vir party van hulle beteken dit steeds dat hulle geskiet of onthoof word. Vir ander is dit regerings wat hul godsdiensvryheid beperk of met “politieke korrektheid” probeer om God se Woord stil te maak.
Van tyd tot tyd sien ons op sosiale media dat, na aanleiding van die een of ander onverantwoordelike uitspraak of ongelukkige gebeurtenis, Christene mekaar opsweep om “op te staan vir ons regte”. Dit, terwyl ons voorgee om ’n Verlosser te aanbid wat verneder is, wat geregtigheid geweier is, en soos ’n lam ter slagting gelei is om aan ’n kruis te sterf sodat ons kan lewe. Jesus het nie sy regte verdedig nie, en daardeur het ek en jy ons verlossing ontvang. Jesus het ander mense soos melaatses, tollenaars, prostitute en selfs ’n vrou wat op owerspel betrap is, se regte bepleit.
Jy onthou dalk haar storie. Die Fariseërs het haar na Jesus gebring om Hom te toets. Volgens die wet van Moses moes sy gestenig word. Die Romeinse besetters het egter steniging verbied. Die Fariseërs het gedink hulle het Jesus op ’n tegniese punt vasgetrek. Maar ons lees in Johannes 8: 7 en 9: Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.” … Toe hulle hoor wat Hy sê, het hulle een vir een begin wegloop, die familiehoofde eerste. Jesus is alleen agtergelaat saam met die vrou daar in die middel van die kring mense.
Wat het hier gebeur? Jesus het Homself liggaamlik geplaas tussen ’n woedende gepeupel, wat deur die korrupte godsdiensleiers opgesweep is, en die vrou, om haar te verdedig. Dis hoe ons gesindheid moet wees. As ons vir iemand se regte wil opstaan, laat ons dan opstaan vir die regte van die onderdruktes, die sondaars, vir diegene wat nie in staat is om hulself te verdedig nie, net soos Jesus opgestaan het vir mense soos ek en jy.
Ds Errol Sheppard, Rietspruit
