Hebreërs 11: 20-22

Isak, Jakob en Josef was besondere persone met uiteenlopende rolle. Hulle het wel iets met mekaar gedeel, en dit is waarop die skrywer klem wil lê. In hierdie brief is dit slegs die gebeure rondom elkeen se dood. Hulle gee die beloftes deur aan ’n volgende geslag, al het hulle self nog nie die vervulling daarvan aanskou nie. Hul dood was nie ʼn grens nie; dit was toe nie die afsluiting nie. Dit was eerder die oomblik waarop hulle elkeen die belofte wat hulle van God ontvang het, in vaste geloofsvertroue aan kinders of selfs kleinkinders oorgedra het. Dit verteenwoordig die besondere geskenk uit genade wat hulle ontvang het en waaraan hulle tot die einde toe vasgehou het.

Isak seën Jakob en Esau met die oog op die toekoms – omdat hy geglo het. Selfs al het dit met die bedrog tussen Jakob en Esau gepaardgegaan, verwag Isak tog ’n bepaalde toekoms vir albei. (Lees Gen 27: 27-40.)

Jakob is al op sy sterfbed, en waar hy eerbiedig vooroor gebuig het oor sy knopkierie, seën hy sy twee kleinseuns, die seuns van Josef. Selfs in daardie oomblikke vertrou hy steeds dat die beloftes van God nog vervul sou word. Geloof laat hom vashou aan wat hy nog nie gesien het nie.

Josef het so vas geglo dat die uittog uit Egipte nog sou plaasvind dat hy die opdrag gegee het dat sy liggaam – al was dit ’n gebalsemde lyk – na die beloofde land saamgeneem moes word. Gegrond op sy geloof dat die toekoms van God vas staan, gee hy selfs oor die toekoms van sy graf in die land van die belofte hierdie praktiese opdrag.

So lys die skrywer van die Hebreërbrief hierdie drie eerbiedwaardige getuies vir die lesers as voorbeelde van hoe geloof ’n ander dimensie kan gee – nie net aan jou lewe nie, maar selfs met watter gesindheid jy die dood tegemoet kan gaan. Weer eens word dit so sterk beklemtoon: Geloof is sien. Op grond van die geloof word ’n totaal ander perspektief op lewe en dood geopen.

Prof Piet Geyser, Emeritus/Meyerspark

af
af
Deel met behulp van
Copy link