Lukas 1: 26-33 en 2: 1-14; Matteus 2: 1b-12; Hebreërs 11

Die Kersfees-visioen van God word die oorsprong en die oorsaak van óns nuwe visie vir lewe. Ons ken hierdie visie as geloof. Geloof is ’n lewe met ’n droom voor oë, ’n lewe met God in die oog. Geloof is ’n lewe wat God sien. Om te glo, sê Hebreërs, is om –

  • seker te wees van die dinge wat ons hoop, oortuig te wees van die dinge wat ons nie met die blote oog sien nie (11: 1);
  • uit te sien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en die bouer is (11: 10);
  • die belofte uit die verte te sien en nou al daaroor bly te wees (11: 13);
  • te verlang na ’n beter, hemelse vaderland (11: 16); en
  • dwarsdeur moeilikheid te volhard soos iemand wat die onsienlike God sien (11: 27) en weet: Dit is alles dubbel en dwars die moeite werd.

Lees Hebreërs 11 en kyk maar in Israel se geskiedenis waartoe mense soos ons bereid en in staat is as hulle aangegryp en gedryf word deur die visie van die koninkryk van God. Hulle wat uit die vertellings van hul voorgangers, nes ons met Kersfees, visioene gehad het van God wat naby genoeg gekom het om aan te raak.

Hoe leef ek dan anders as ek God gesien het? Ons leef die lewe anders en nuut omdat diegene wat God gesien het, die lewe anders verstaan. Kom ek probeer verduidelik wat elke Kersfees met ons almal gebeur: Kersliedjies, krismisvaders en boompies met liggies skep ’n atmosfeer wat jou telkens met ’n slap riem vang en jou oorreed om te doen wat alle mense oor Kersfees doen – om te koop! Dit is hoe ’n goeie storie met jou werk. Dit wil jou denke verskuif. As mense jou met ’n sprokie oor ’n Sinterklaas kan ompraat om te doen wat jy nie wou nie, dink net wat God met die waarheid kan regkry!

Gesang 354

Ds Jacques Pieterse, Laer Suidkus

af
af
Deel met behulp van
Copy link