Lukas 10: 1-24

Op pad na Jerusalem stuur Jesus 72 volgelinge vooruit na die dorpe wat Hy van plan was om te besoek. Miskien was sy vorige ervaring (Luk 9: 51-55) die motivering vir hierdie stap. Miskien was dit ’n oefenskool vir sy volgelinge om voorbereid te wees vir dit wat voorlê na sy verhoging. Eintlik is ons hele lewe ’n voorbereiding op wat moet volg. Eers gaan Jesus se volgelinge twee-twee uit, en dan volg Jesus self.

Jesus roep mense – dit is genade. Maar Hy waarsku ook – dit is realisme. Die oes wat groot is, dui op die dringendheid om die evangelie uit te dra (vgl Joël 3: 13; Jes 27: 12; Matt 9: 37). Daar kom egter ’n tyd wanneer daardie geleentheid verby is, en so ook die geleentheid tot bekering.

Gestuurdes moet egter weet daar sal teenkanting, selfs aggressie, teenoor hulle wees. Jesus sê sy gestuurde volgelinge is soos lammers tussen wolwe. Aan die een kant moet ’n mens dus bedag en voorbereid wees op ’n vyandige omgewing, tog moet dit ook nie die rede wees vir terughoudendheid nie. Dit is nie asof die wêreld daar buite ’n mens uitnooi om die evangelie aan hulle te verkondig nie, maar tegelykertyd realiseer al die gevare waarteen ’n mens gewaarsku word, ook nie noodwendig nie. Daar is ook dié wat luister en ontvanklik is en die gestuurdes met hartlikheid ontvang. Die 72 kon met blydskap rapporteer dat daar sukses was, en Jesus kon hulle bemoedig dat hul name in die hemel opgeskryf is.

Hul opdrag was ver verwyder van propaganda en ideologiese uitsprake soos ons dit in die wêreld van die politiek en sosiale groeperinge ken. Die feit dat hierdie volgelinge nie eens vir eie fisieke behoeftes voorsiening moes maak nie, straal reeds die wesentlike van die evangelie van vertroue en vrede uit. Dit gaan nie oor die sensasionele nie, maar oor mense wat in hul hart geraak word. Dit is nie die gevare op die sendingtog wat bepalend is nie, maar die versekering dat God se seën op die gestuurdes rus.

Ds Dries Beukes, Emeritus/Swartkop

af
af
Deel met behulp van
Copy link