1 Johannes 2: 18-21
Alle mense sal erken dat die waarheid kosbaar is. Daar is nie een persoon wat die waarheid kan ontken nie. Die probleem is dat ons baie keer kies om nie die waarheid te vertel nie. Leuens is aan die orde van die dag. Ons vertel leuens en ons word elke dag met leuens gekonfronteer. Dit is dus belangrik vir gelowiges om aan die waarheid getrou te bly en daaraan vas te hou.
In die geloof kan daar baie dinge wees wat ons mislei. Mense maak soms opmerkings wat van die waarheid van God afdwaal. ’n Mens hoef nie in ons moderne wêreld hierdie dinge te gaan soek nie. Almal wil reg wees en daarom kies mense om van die waarheid af te wyk om hul eie perspektief te stel. Dit kan verwarrend wees en dit kan die kerk op verskeie wyses uitmekaardryf.
Dit is egter belangrik om te besef dat ons as gelowiges die Heilige Gees het wat ons lei. Of anders gestel, ons as gelowiges moet besef dat ons deur die Heilige Gees gesalf is. Hierdie troos behoort ons tot dankbaarheid te bring. Dit is die Heilige Gees wat ons salf om ten diepste te weet wat die waarheid is. Die toets daarvan lê binne jou as mens. Dit is soms moeilik om te definieer wat die waarheid is, maar ’n leuen word maklik herken. Die waarheid word nie gekies nie, maar ’n leuen is te alle tye ’n keuse. Dit is hierin dat ons weet dat ons getrou is aan God. Die feit dat ons as gelowiges deur die Heilige Gees gesalf is, maak ons anders as die wêreld en beïnvloed ons denke. Dit dryf ons daartoe om die waarheid te alle tye te koester, want geen leuen kan uit die waarheid voortkom nie.
Ds Juan de Beer, Parys
