Matteus 6: 25-34

Wat maak jou baie bekommerd? Wat laat jou nagte lank wakker lê? Wat is dit wat jou so gespanne laat word? Wat laat jou sweet van angs? Dit is dinge wat jou van God af wegtrek en jou vrede en vreugde steel. Ons het almal baie dinge wat ons in verskillende rigtings trek. Ons wil goed doen in die skool of op universiteit, sodat ons ’n goeie werk kan kry. Ons wil ’n goeie werk hê, sodat ons voldoende geld het om van te lewe. Ons wil trou en gelukkig wees. Hoe balanseer ons dit alles? In plaas daarvan om te probeer om die balans te vind van watter dinge die meeste aandag moet kry, maak Jesus dit eenvoudig deur te sê dat ons eerste op God se koninkryk en sy geregtigheid moet fokus, dan sal al die ander dinge in die lewe aan ons gegee word.

Ons is so dikwels bekommerd oor ons eie lewe, oor wat ons sal eet en drink en aantrek, maar wat beteken dit om eers op God se koninkryk te fokus? Dit beteken om tyd deur te bring met God en sy riglyne te volg wanneer ons dinge in ons lewens aanpak. Die primêre manier waarop jy dit doen, is deur die Bybel te lees. Om elke dag tyd te neem om jou aandag op ’n Skrifgedeelte te fokus en dan daaroor te dink. Dit sal jou help om God se Woord te hoor, en te hoor wat die belangrikste in die lewe is. As ek en jy ons in die Woord van God verdiep en elke moontlike geleentheid met albei hande aangryp om sy Woord beter te verstaan, sal Hy en sy koninkryk ook vir ons al hoe belangriker word. As ons bekommerd is, nooi die Here ons uit om die bekommernisse wat ons benoud en beangs laat voel, eenkant toe te skuif en rus by Hom te vind. Die belofte van Jesus is dat God sal sorg dra vir al jou lewensbekommernisse wanneer jy Hom en sy koninkryk eerste stel.

Dr Rudy Denton, Potchefstroom-Studente

af
af
Deel met behulp van
Copy link