Lukas 14: 15-24

Wanneer Jesus ’n gelykenis oor die koninkryk van God vertel, gebruik Hy die beeld van ’n maaltyd. Juis ’n maaltyd om die oorvloed, vreugde en gemeensaamheid van die tafelgenote aan te dui. Om in die Bybelse tyd genooi te word vir ’n maaltyd, was ’n voorreg met ’n kinkel daarby: Die gasheer nooi net die mense in die samelewing wat op dieselfde sosiale vlak as hy verkeer. Hier in Lukas 14 vertel Jesus van ’n man wat ’n groot maaltyd gereël het. As jy genooi was, het jy geweet dat jy aansien in die gemeenskap het. Die nadeel egter daarvan om genooi te word vir ’n maaltyd, is dat daar die onuitgesproke verwagting was dat jy iewers in die toekoms ook weer die gasheer na ’n feesmaal by jou huis sal nooi. Jy word genooi met die veronderstelling dat jy ook weer sal nooi.

Wanneer die eerste genooide gaste, almal vooraanstaande mense in die gemeenskap wat eiendom en plase besit het (verse 18-19), die uitnodiging weier, stuur die gasheer sy slawe uit om die onwaarskynlike genooides te nooi: die armes, die kreupeles, blindes en verlamdes (vers 21). Waarom op dees aarde sal die gasheer hom met sulkes bemoei? Hulle deel nie dieselfde sosiale stand as hy nie en sal nooit in der ewigheid in staat wees om die gasheer vir ’n ete te nooi nie. Sodra die gasheer verneem dat daar nog plek aan tafel is, stuur hy sy slawe uit om onbekendes en vreemdelinge, almal wat hulle op pad teëkom (vers 23), na die maaltyd te nooi.

Die koninkryk van God het waarlik nie grense nie. Met dié gelykenis wil Jesus iets oor die aard van die koninkryk van God sê: Daar is plek vir almal. Daar is vreugde – die koninkryk is soos ’n feesmaaltyd sonder die voorwaarde dat jy ’n teenprestasie moet lewer om te mag deel word van die koninkryk. As mense wat deel is van die koninkryk, moet ons ook ander mense nooi om deel te word van die feestelikheid.

Prof Jaco Beyers, Universiteit van Pretoria/Centurion-Oos

af
af
Deel met behulp van
Copy link