Filippense 3: 14-21
Ons as mense leef gewoonlik van iets wat ons gesien het af, voorbeelde wat mense stel, en dan volg ons dit na. Dit wat ek sien, is dit wat ek uitleef en hoe ek my lewe vorm. Ons het by ons ouers gesien hoe om huis-huis te speel, en dan speel ons ook so. Ons het as gelowiges ook iemand nodig wat ons in ons geloof kan navolg.
Jesus Christus is vir ons die voorbeeld van hoe om as Christene te lewe, maar om daarin te slaag, moet ons vir Jesus ken. Om daarin te slaag, moet ek ’n persoonlike verhouding met Jesus hê. Indien ons vasgevang word in ander voorbeelde, is die moontlikheid daar dat ons vir die verkeerde mense kyk en hulle navolg, dié wat vyande van die kruis is. Daarom moet ons versigtig wees op wie ons oë gerig is. Ons oë moet gerig wees op Jesus Christus. Dit moet ons herinner dat ons burgers van die hemel is, dat ons vir Jesus Christus moet navolg, en daardeur sal ons ook Jesus Christus se krag ervaar.
Ons word geroep om vas te staan in ons geloof en getrou te wees aan die Here. Ons moet ons oë gerig hou op Jesus Christus sodat ons nie die werking van die krag van Jesus en die werking van die Heilige Gees sal ontbeer nie. Moenie toelaat dat iets jou daarvan weerhou om Jesus te ken nie, moenie toelaat dat iets jou daarvan weerhou om die werking van die Heilige Gees te ervaar nie. Met jou oë gerig op Jesus Christus, ervaar jy die krag van die Heilige Gees. Om navolger van Jesus Christus te wees, moet my oë gerig wees op Hom en moet ek die werking en krag van die Heilige Gees toelaat om in my te werk en my te vorm.
Gees van God wat in my woon, breek die Woord vir my.
Gees van God wat in my woon, kom en heilig my.
(Gesang 442)
Ds Natasha Smit, Nelspruit/Barberton
