Romeine 5: 1-11

Ons lewe word gekenmerk deur hoop. Sonder hoop is daar eintlik nie betekenis in ons bestaan nie. Hoop is egter nie maar net altyd hierdie idilliese verwagting dat alles net beter en groter sal wees nie. As Christen verstaan jy hoop altyd teen die agtergrond van jou verhouding met God, en meer in die besonder in die lig van wat alles in Christus ’n werklikheid geword het.

As ons na verse 3 tot 5 kyk, sien ons dat alles eintlik begin en eindig by hoop. Maar voor ons daar begin, is daar eers ’n deurslaggewende invalshoek: vryspraak deur geloof, vrede deur Jesus Christus en vrye toegang tot die genade van God. Hierdie drie dinge bring ons uit by die grootsheid en omvang van die hoop wat begin by die heerlikheid van God waaraan ons deel kry. Die heerlikheid is egter nie verteenwoordigend van die volle omvang van die lewe nie. Alles begin by die hoop en die heerlikheid, maar die lewe word ook gekenmerk deur swaarkry. Niemand bid vir swaarkry nie, maar wanneer dit op ’n mens se pad kom, help die hoop wat jy het jou om dit te hanteer. Swaarkry sit ’n proses aan die gang: Dit kweek die beginsel van volharding. ’n Ander manier om dit te sê, is jy leer om uit te hou en aan te hou; om vas te byt.

Dit op sy beurt kweek weer egtheid van geloof. ’n Ander manier om dit te sê: Dit suiwer jou geloof. Dit is maklik om onder die ideale omstandighede te verklaar dat jy sterk staan in die geloof. Die toets is wanneer daar swaarkry kom wat jou onder druk plaas en dinge nie meer so maklik is as voorheen nie – of jy dan steeds met sulke stelligheid kan sê ek staan sterk in die geloof. Wanneer jy deur die prosesse van swaarkry en volharding gekom het en dit jou geloof gesuiwer het, lei dit terug tot hoop wat nie teleurstel nie, want God het sy liefde deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort.

Alles begin en eindig by die hoop waarin ons ons verheug.

Ds Dries Beukes, Emeritus/Swartkop

af
af
Deel met behulp van
Copy link