Lukas 15: 11-32

Wanneer ek die verhaal van die verlore seun lees, kan ek vir myself ’n prentjie van die jongste en oudste seun vorm. Ek kan my vereenselwig met elkeen van hulle. Die jongste seun is die rebel, die een wat net onder die wakende oog van sy pa wil uitkom. Ek hoor die jongste seun sê: Ek wil self… Hy is tog nie soveel anders as ek nie. Ek wil ook op my eie twee voete staan en wys ek kan op my eie regkom. Dan is daar die oudste seun – die verantwoordelike een. Dis hy wat altyd voorbeeldig lewe, die regte dinge doen. Altyd ander in ag neem. Dié een wat gee en gee en die meeste van die tyd nie terug ontvang. Ja tog, ek kan my volledig vereenselwig met die oudste broer. Ek voel ook soms ek kry stank vir dank. Ook ek wil somtyds net uitroep: Dis onregverdig! Waar is my dankie?

In hierdie verhaal is daar egter ’n ander vreemde karakter. Iemand wat ek hoegenaamd die verstaan nie. Dis die pa. Hy tree só anders op as wat ek dit sou doen. Hy gee vir die jongste seun sy vryheid. Hierdie seun sê in effek vir sy pa: Jy wil nie vinnig genoeg doodgaan nie, gee my dus nou my erfporsie! Dis hardvogtig en ongeskik. Tog verwelkom hy hierdie kind van hom met ope arms terug. Hy kyk die pad stukkend om te sien of sy seun nie wil terugkeer nie. Die oudste seun is net so ondankbaar. Hy ervaar sy pa se liefde elke dag, maar waardeer nie wat hy het nie. Tog antwoord die pa sy seun met oneindige deernis en geduld. Ek sou die jongste vir ewig kwalik neem en my verknies oor die oudste se ondankbaarheid. Dis wat ek sou doen.

Hierdie verhaal vertel ons hoe onverstaanbaar God se liefde vir ons is. Hoe onverstaanbaar sy oneindige genade is. Hoe verrassend God se optrede is. Hy is die onbegryplike, liefdevolle God. Hy is my Here.

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia/Bybelgenootskap van Suid-Afrika

af
af
Deel met behulp van
Copy link