Matteus 26: 36-46

Jesus het Hom onttrek aan die drie daar in die tuin van Getsemane. Hulle is Petrus en die seuns van Sebedeus. Ons sien Jesus as ’n eensame bidder, bedroef tot die uiterste, besig met ’n baie nederige gebed. Hy het op sy gesig neergeval terwyl Hy bid. Sy gebed is ’n beweging vanuit die moontlike na noodsaaklike.

Vroeër het Hy die dissipels geleer bid: Ons Vader. Nou hoor ons sy aanspreekvorm: My Vader. Drie maal bid-vra Hy. As dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan. Toe weer, as dit nie moontlik is dat hierdie beker verbygaan sonder dat Ek dit drink nie… Eers kan dit maar verbykom, maar dan die aanvaarding en die oorgee. Nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U dit wil, sê Jesus. Laat u wil geskied….

Jesus is gehoorsaam aan die Vader en Hy is bewus van sy naderende lyding. As kneg van die Here sal Hy en sy lyding versoenende en bevrydende betekenis hê.

Hy was ontsteld en bedroef, en Hy sê dit ook. My siel is diep bedroef, tot die dood/sterwens toe. Hierdie eerste deel herinner aan Psalm 42: 6, 12 en Psalm 43: 5. Dit is nie ’n wanhoopskreet nie. Wat Hy aanhaal, gaan nie alleen om die verdriet oor sy dreigende dood nie, maar ook die vertroue en vashou aan God te midde van die verdriet. Nou in Getsemane het die oomblik aangebreek dat Jesus Homself moet prysgee in die dood. Die emosies oorweldig Hom. Hier is Jesus draer van die openbaring van God vir ons. Die sinsnede tot sterwens toe doodsbenoud is die versterking van die uitspraak: my siel is doodsbenoud… so met smart gevul dat ek liewer dood sal wil wees…

Jesus, al u angs en smeking, eensaam in Getsemane –                                             

dit was liefdevol bereken om ons ware rus te gee.                    

Heer, U het, gedring deur liefde, self die kruis vir ons gedra.          

En U sterf – die sondelose – in ons plek op Golgota.

(Gesang 393: 2)

Ds Kathleen Smith, Kaapstad

af
af
Deel met behulp van
Copy link