Josua 1: 1-9

Ons ken die verhaal goed van God wat die Israeliete uit Egiptiese slawerny bevry het. Dan kom die Israeliete voor die onmoontlike, die Rietsee, te staan, maar God gee uitkoms en laat hulle droogvoets deurtrek. Ons vind hier in Josua die tweede keer dat Israel voor water te staan kom wat vir hulle plek maak. Om hierdie gebeure lees ons van God se opdrag aan Israel se nuwe leier, die jong Josua.

Die Jordaanrivier staan soos die onmoontlike voor Israel, maar hulle het geen ander keuse nie as om deur te moet gaan. Hulle neem hierdie belofte van God saam met hulle: Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan (vers 9). Israel kon weer, vir die tweede keer deur die onmoontlike, droogvoets deur die Jordaanrivier gaan…

Dalk staan die onbekende voor jou soos Israel van ouds se waters waardeur hulle moes gaan. Maak hierdie belofte van God ook jou eie: Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.

Só is ons ook op weg na die onbekende toekoms wat God skep. Daar is ’n opdrag: Hou by wat reg is. Ons weet tog wat reg is, soos ons lees van die “wetboek wat jou rigsnoer” (vers 8) moet wees. Gaan die “beloofde land”, die onbekende pad wat voorlê, met vrymoedigheid binne, met die vaste vertroue dat God wat ons stuur, ons veilig behoed en bewaar – selfs deur diep waters heen.

Soos God se woorde aan Israel ’n opdrag is, gee God aan ons vandag ook die opdrag: Wees sterk in alles wat jy aanpak, wees vasberade wanneer dit voel jy hou nie kop bo water nie. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.

Ds Rudi Janse van Rensburg, Weltevreden

Share via
Copy link
Powered by Social Snap