Hebreërs 1: 1-4

Die viering van die geboorte van Jesus Christus bring ’n blydskap in Christene se harte wat nie deur ongelowiges begryp kan word nie. God het gepraat. Hy het Homself openbaar. Hy het ’n verlossende en lewegewende woord gespreek. Op ’n uitsonderlike en spesifieke manier het God gepraat. Anders as deur sy openbaring in die skepping en deur sy voorsienigheid, praat God deur sy profete, en finaal deur sy Seun. God se praat gaan oor belofte en vervulling.

In die Ou Testament weerklink die belofte van ’n Messias. Op verskillende maniere het God in die Ou Testament gepraat. Hy het deur sy magtige werke van genade en oordeel gepraat. Hy het profete gebruik om dit bekend te maak. In storms en donderslae het Hy met Moses gepraat. Met Elia praat Hy met ’n fluistering in die windstilte. Toe die volk Siloag se kalm waters verwerp, het die Here deur die magtige vloedwaters van die Eufraat met hulle gepraat. Priester en profeet, wysgeer, digter en sanger was op verskillende maniere sy spreekbuis.

Nogtans het dit tekortgeskiet aan dit wat God wil sê. Eers met Christus se koms word God se Woord volkome. Met Christus se koms praat God duidelik, volledig en finaal. Christus se geboorte is die vervulling van sy beloftes. Om sy laaste woord tot die mensdom te rig, het God sy Seun gekies. Die openbaring wat God in Jesus Christus gee, is die hoogste, die grootste, die uitnemendste. Méér wil God nie vir die mens sê nie. God het sy Seun gestuur om hierdie genadewoord, verlossingswoord, lewegewende woord, blye woord, aan mense oor te dra.

Die geboorte van Jesus Christus is die fluistering van God in die windstilte. Dit is sy genadewoord aan ’n verloregaande mensdom. Dit is ook die donderslag van God se stem wat die sonde vernietig, sy woord van oordeel oor sonde en dood. Ons loof, aanbid en dank God bly. Sy stem van genade is ons troos en ons hoop.

Ds Willem Kok, Potchefstroom

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link