1 Korintiërs 12: 12-31

Die koms van Jesus het van begin tot einde hoop in die oog gehad. Hoop is die geloof en die oortuiging dat God al sy beloftes waar sal maak. Tydens Advent ontspring die hoop in die belofte van ’n Messias wat gebore sal word. Die hoop rig tegelykertyd ons oë op sy wederkoms: Hoop is die gelowige se veilige en onbeweeglike lewensanker (Heb 6: 19).

Die sonde het ’n afbrekende en vernietigende effek op die lewe van die gelowige. Selfliefde en selfsug werk vernietigend in op die lewe van elke mens. Die resultaat hiervan is verdeeldheid, ongesonde mededinging en spanning tussen mense. Die verdeeldheid word net nog verder aangevuur deur menslike behoefte en verskeidenheid. In die lewe van Jesus word ons aan ander gelowiges vasgebind. Jesus word met ons een, sodat ons met mekaar een mag wees. Eenheid bevestig vas wees aan en deel wees van mekaar. 

Die liefde van Jesus maak dit moontlik dat gewone mense mekaar ook liefkry. Die liefde word ’n nuwe lewensruimte waarin gelowiges mekaar met die liefde van God vol maak en heel maak. Die eenheid en band tussen gelowiges is veel meer as ’n sentrale assosiasie of belang! Geloof, hoop en liefde is ’n samebindende krag wat soos suurdeeg, sout en lig ’n lewensveranderende effek het. Een wees met Jesus is in vele opsigte die voorwaarde vir hierdie onderlinge eenheid tussen gelowiges.

Advent rig ons aandag op hierdie kosbare band met Jesus Christus ons Here. ’n Lewe saam met Jesus bring hoop en ontgin nuwe horisonne. Jesus se koms belowe ’n nuwe wêreld waaraan elke gelowige moet meewerk. ’n Plek waar mense mekaar vergewe, waar kos met ander gedeel word, waar daar genesing is vir almal se wonde, en waar God self die trane afdroog. 

Waar daar liefde is, en deernis, waar daar liefde is, daar is God die Heer (Gesang 526).

Dr Frikkie Labuschagne, Sinodaal

af
af
Copy link