Filippense 2: 5-11

Ek het deur die jare letterlik duisende kere vir mense gesê: Ek bid vir julle of Ek dink aan julle. Dit het nie noodwendig enigiets aan hul fisiese omstandighede verander nie. In die meeste gevalle het hul seerkry en swaarkry maar ’n normale afloop gehad. Die probleme is óf mettertyd opgelos óf dit het in ’n hartseer skeiding, hetsy dood of die verbreking van verhoudings, of iets dergeliks geëindig.

Die Latynse woordjie compassio beteken om saam swaar te kry. Dit beteken letterlik om iemand se swaarkry joune te maak. Om in iemand anders se skoene te staan en te poog om regtig behoorlik te verstaan. ’n Dominee het byvoorbeeld ’n klompie jare gelede op straat gaan slaap vir ’n paar aande om die seer en die swaarkry van die haweloses eerstehands te beleef. Jesus kom na die aarde en ervaar swaarkry in die ergste graad, nie net saam met ons nie, maar ook namens ons. Hy word as’t ware ’n slaaf wat dien. Hy word ’n lewende offer in ons plek. As ons hierdie uiterste vorm van liefde verstaan, verstaan ons iets van compassio. Kom ons dink nie net aan ander wat seer het nie, kom ons probeer vir ’n oomblik in hul skoene staan. As ons dit doen, sal ons ware meegevoel en medelye hê. Hierdie opregte medelye kan hoop bring.

Gebed

Here, maak my ’n instrument van u vrede. Waar daar haat is, laat my liefde bring; waar daar oortredings is, vergifnis; waar daar twyfel is, geloof; waar daar wanhoop is, hoop. Waar daar duisternis is, lig; waar daar droefheid is, vreugde. O heilige Meester, gee dat ek, in plaas daarvan om vertroosting te soek, ander sal vertroos; in plaas van begrip te soek, ander sal verstaan; in plaas van liefde te soek, ander sal bemin. Want dit is deur te gee dat ek ontvang; deur te vergewe dat ek vergewe word. En dit is deur te sterwe dat ek die ewige lewe beërwe. (Franciskus van Assisi)

Ds David Barnard, Magaliesmoot

Share via
Copy link
Powered by Social Snap