Genesis 1: 11-26

Toe die Here die plante op die aarde gemaak het, het Hy met die aarde gepraat en gesê dat die land plante moet laat uitspruit. Toe die Here die visse in die see gemaak het, het Hy met die see gepraat sodat die visse daarbinne kan lewe.

Toe die Here die mens geskep het wat op die aarde moet leef, het Hy nie met die aarde gepraat nie, Hy het met Homself gepraat. Wanneer ons die Afrikaans lees, mag dit dalk klink of God met iemand buite Homself praat wanneer die woord “Ons” gebruik word. In Hebreeus is die woord wat vir God gebruik word “Elohim”. Hierdie woord is ’n meervoudswoord, maar dit beteken nie dat daar meer as een God is nie. Ons ken God as drie Persone – Vader, Seun en Heilige Gees – maar soos wat ons geleer word, beteken dit ook nie dat God drie wesens is nie. Ons ken God as ’n Vader, Seun en Heilige Gees. God bly een Wese en ons is deur en in hierdie een Wese geskape.

So praat God hier met Homself wanneer Hy sê dat die mens gemaak moet word. Soos wat visse se habitat die see is en plante se habitat die aarde is, word die mens se “natuurlike habitat” dan God. God het ons geskape sodat ons in Hom, met Hom en vir Hom kan bestaan.

Wanneer jy ’n vis uit die see haal, gaan die vis dood. Wanneer jy ’n plant uit die aarde haal, gaan die plant dood. Wanneer ons ’n lewe wil leef sonder God, is daar geen sin nie, dan is ons siel so goed as dood. Ons wese smag na die lewende God. Sonder Hom beteken ons bestaan nie veel nie.

Daarom is ons daaglikse lewe ’n soeke na die Here, sy teenwoordigheid. Ons leef sodat ons die Here kan dien. Nie net by die kerk nie en nie net omdat ons in die hiernamaals die Goeie soek nie, maar omdat ons wese nie anders kan nie.

Ds Yvette Scholtz, Magaliesmoot

Share via
Copy link
Powered by Social Snap