Matteus 14: 22-31

God is besig in die kerk, dit weet ons. Ons is God se instrumente, en so word ons deel van die saak waarmee God besig is. Ons raak betrokke daar waar God reeds besig is. Wat wel ’n uitdaging is, is ons gemaksone, die grense van “tuisvoel” wat ons rondom ons trek. Binne hierdie grense kan God ons maar gerus gebruik, buite hierdie grense is dit dikwels “net nie vir my nie”.

Die verhaal van Petrus wat op water loop, is een van die verhale wat treffend uitbeeld watter verskil ons fokus maak. Ons oë op God, teenoor ons oë op die waters om ons. Wat hierdie verhaal egter ook uitbeeld, is die manier waarop God ons gebruik vir die dinge waarmee God besig is. Jesus verwag van Petrus die onmoontlike. Hy verwag dat Petrus uit die boot sal klim en Hom sal ontmoet. ’n Mens wat op water loop! Petrus doen juis dit. Dit vra van Petrus elke greintjie van sy moed en geloof om dit te doen. Alhoewel hy eindelik tekortskiet, word hierdie ’n verhaal wat vir ons vandag steeds as motivering dien.

Dit is presies wat God doen. God roep ons om betrokke te raak by sake wat nie net buite ons gemaksone is nie, maar ook soms bo ons vermoë is. Daar waar ons kragte ophou, word God verheerlik in die dinge wat verder gebeur, die dinge wat bo ons menslike vermoë uittroon. God se almag word juis sigbaar wanneer ons mag om iets te verrig, ophou. Soos vir Petrus, nooi God ons ook om te waag. As ons wil deel word van God se werk in die kerk, gaan dit van ons moed en geloof vra, maar dit is juis die punt. Ons wag om die bo-menslike hand van God te sien, en ons waag dit om tot God se eer mee te werk.

Ds Thomas Dreyer, Malelane

Share via
Copy link
Powered by Social Snap