2 Konings 4: 38-41

Ons lees in hierdie verhaal dat een van die jong profete per ongeluk wilde ranke in die bredie gaan insny het. Die jong profete sou nie doodgegaan het nie, maar hierdie ranke het die bredie oneetbaar bitter gemaak. Elisa sê toe dat hulle meel moet ingooi om die bitter smaak uit te haal.

Hierdie verhaal klink nie na ’n vreeslike groot wonderwerk nie, eintlik klink dit maar na ’n baie alledaagse storie. Ons almal het al die fout gemaak om te veel speserye oor die kos te gooi, of die resep verkeerd te lees. Wat is nou meer alledaags as dit? En juis daarin lê ons boodskap. Elisa was nie nét met wonderwerke besig nie, ook in sy alledaagse roetine het hy die Here se werk gedoen. Hy het nie net vir konings en belangrike mense tyd gehad nie, maar ook vir ’n jong profeet wat ’n fout gemaak het. Net so gee die Here ook vir ons om; dit maak nie saak waar my plek in die samelewing is of hoe mense na my kyk nie. Ons leer uit hierdie verhaal dat God ook omgee vir siekes, vir armes, dit wil sê, vir mense wat uitgestoot is. Hy gee om vir ons oumense en ons kinders. Hy gee om vir hulle wat hartseer en alleen is en hulle wat desperaat en moedeloos is. God gee selfs om vir sondaars.

Die Here se werke is nie almal groot en asemrowend nie. Partymaal is dit maar klein en alledaags. Dis iets wat ons baie maklik as vanselfsprekend aanvaar. Soms is die Here se werke so klein dat ons goed moet oplet om dit raak te sien… Dis so sag dat ons mooi moet luister om dit te hoor… Kom ons maak vandag ’n punt daarvan om weer mooi op te let hoe die Here in ons lewens werk. En dan gaan ons vanaand op ons knieë om vir Hom dankie te sê vir al die klein dingetjies wat Hy vandag vir ons gegee het.

Ds Pieter Rossouw, Sannieshof

af
af
Copy link