Romeine 8: 18-30
Romeine 8 vertel van die verhouding tussen God die Skepper en God se skepping. Dit is ’n besondere tema wat ons geloofsnadenke verby onsself rig. Eie aan die mens, is ons geloof maar baie keer antroposentries. Met ander woorde, die mens, die eie ek en mý verhouding met God, staan sentraal in ons geloof. Dan verloor ons egter die groter prent uit die oog, die groter heilsplan waar God nie net met die mens op pad is nie, maar met die ganse wêreld, die ganse skepping. God se verlossing is nie net vir die mens bedoel nie, maar vir alles wat deur God geskep is.
Paulus wil ons gedagtes op hierdie werklikheid rig in Romeine 8 wanneer hy die mens se belewenisse op aarde in universele perspektief plaas. Hy praat spesifiek in hierdie gedeelte oor die belewenis van swaarkry en lyding. Dit is nie net die mens wat aan verganklikheid en lyding onderworpe is nie, alles in die teenswoordige wêreld is daaraan uitgelewer. Maar dit is opvallend dat Paulus die lyding en gebrokenheid van hierdie wêreld nie net in terme van die sondeval plaas nie, maar ook in terme van die kruis en opstanding van Jesus Christus. Juis in Christus word God se oordeel oor skepsel en skepping voltrek en breek God se genade van herstel en heelwording aan. Op grond van Christus se oorwinning is die swaarkry en lyding van hierdie wêreld maar tydelik en gering. Op grond van Christus se oorwinning wag daar ’n toekomstige heerlikheid op die ganse skepping. Die opstanding van Christus uit die dood, bring ’n einde aan dood en verganklikheid, dit bring ’n einde aan ’n sinlose bestaan – vir die mens en die skepping. God se herskeppende aktiwiteit in Christus omvat die hele aarde.
Op grond hiervan leef ons en die skepping saam met ons met ’n hunkering, ’n sug, amper asof skepping en skepsels saam asem ophou vir die aanbreek van God se volheid. In hierdie hunkering, asem ophou, is die lewende verwagting vervat dat Hy wat ons vrygespreek het, ons ook sal verheerlik.
Ds Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom