Genesis 1: 26-28

Die Duitse filosoof Ludwig Feuerbach, wat onder andere ’n groot invloed op Karl Marx gehad het, het ’n boek geskryf wat in wese kritiek teen die Christendom lewer. Die titel van die boek is The Essence of Christianity. Hoewel dit normaal is vir enige mens om jouself teen kritiek te verdedig, is dit tog sinvol om daarna te luister en, sou dit nodig wees, aanpassings in jou lewe te maak.

Een van Feuerbach se kritiese opmerkings was dat onder andere die natuur geen waarde of betekenis vir ’n Christen het nie, omdat ’n Christen slegs in die redding van sy eie siel belangstel en niks anders nie. Natuurliefhebbers sal moontlik hieroor opstandig raak en hul liefde en hartstog vir die skepping bevestig. As ons eerlik wil wees, leef daar egter iets, dikwels baie, in ons harte oor ons aanstelling of meesterskap oor die skepping. Die gedagte dat ons heersers en bestuurders van God se skepping is, leef tóg maar in ons gemoed. Elke plant en dier wat in ons pad is op die lappie grond wat ons wil bewerk, moet koers kry – óf uit óf dood.

Dit pas eerder by ’n gelowige om nederig te wees. Ons behoort ons rol in die geheelprentjie te sien en te verstaan. Ons leef sáám met ander skepsels as deel van ’n groter geheel op aarde. Álles wat God geskep het, was vir Hom goed, nie net die mens nie. Ons rol is nie om te gebruik of te misbruik tot ons eie voordeel nie. Ons rol is nie om weg te gooi of te verwyder as iets ons nie pas nie, maar eerder om in stand te hou, te verdra, saam te leef en uit te bou tot eer van die Here. As Hy inderdaad sy handewerk aan ons toevertrou het, kan ons nie anders nie as om onsself slegs as ’n onderdeel daarvan te sien en as sodanig ons bydrae tot die instandhouding daarvan te lewer.

Ds David Barnard, Magaliesmoot

af
af
Deel met behulp van
Copy link