Kolossense 2: 6-19

In die gemeente van Kolosse was daar gelowiges wat geglo het dat jy gered kan word sonder geloof in Christus. Hulle is deur bepaalde argumente oortuig dat jy deur wetsonderhouding gered kan word – ’n oorblyfsel van al die Joodse godsdienstige reëls. Epafras, ’n leier in die gemeente van Kolosse, vra Paulus vir raad. Paulus was onder huisarres en kon nie self na Kolosse gaan om die probleem op te los nie. Daarom skryf die skrywer ’n brief aan die gemeente om raad te gee. ’n Brief wat Epafras per hand na die gemeente neem om voorgelees te word.

In hierdie gedeelte fokus Paulus op ’n spesifieke filosofiese teorie. Filosowe is mense wat dink en praat oor die kuns van die lewe. Die doel van filosofiese teorieë is om lig te werp op die kuns van die lewe. Hoe kan die mens gered word? Dit is moeilik om die spesifieke dwaalleer te identifiseer, maar dit het te doen met onder andere voorskrifte oor wat geëet en gedrink mag word, die viering van feesdae, oordrewe nederigheid, die viering van engele en die sien van visioene, met voorskrifte oor waaraan ’n mens nie mag vat, jou mond nie mag sit of nie mag raak nie, met streng beheersing van die liggaam. Deur hierdie godsdienstige vroomheid is mense weggevoer om te glo hulle is beter as ander mense – beter gelowiges, ware gelowiges, egte gelowiges, gered en verlos deur hul eie goeie dade.

Paulus skryf vir hulle (en vir ons): Die mens word nie gered op grond van wat jy doen nie, maar in wie jy glo – Christus Jesus. Dit gaan dus nie in die Bybel in die eerste plek oor hoe ons moet aanbid nie, maar eerder oor wie ons moet aanbid. In ons teks sê Paulus dit beteken ons moet in verbondenheid aan Christus lewe.

Worstel jy met die vraag: Hoe kan ek gered word? Lewe in verbondenheid met Christus!

Ds Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein

af
af
Deel met behulp van
Copy link