Psalm 31: 1-25

As jy stil word en dink oor jou lewe, kan jy die geleenthede opnoem wat jou lewe gevul het met blydskap, dankbaarheid en selfs hartseer. Soms wonder ons wie of wat hou nou eintlik die tyd van ons lewe in die hande en wat bepaal waarheen ons op pad is. Die digter van Psalm 31 het ook by geleentheid hieroor gewonder. Wat ons uit die Psalm kan aflei, is dat bedreiginge hom emosioneel en selfs fisiek afgetakel het. Op die oog af lyk dit of die Psalmdigter se vyande bepaal het wat met hom sou gebeur. Daarom erken hy eerlik en afhanklik voor die Here in verse 15 tot 16: Maar ek vertrou op U, Here, ek sê: U is my God. My tye is in u hand.

Ons tye is in God se hand. Van die kleinste deel tot die groter raamwerk van ons aardse tyd, is in God se hand. Die swaarkrytye en die voorspoedtye, die jongmenstye en die oudwordtyd, die geboortetyd en die sterwenstyd, verlede, hede, toekoms, eindtyd – tot in ewigheid – is alles in God se hand. Wanneer bedreiginge ons bang maak en krisisse neig om ons te oorweldig, kan ons weet dat dieselfde hande wat die hemel en die aarde gemaak het, ons vashou.

Om ons te verseker dat ons nooit uit God se hande sal glip nie, en dat niemand of niks ons ooit uit sy hande sal ruk nie, het God sy Seun gestuur om ons met sy verlossende hande van alle kante te omsluit, te dra en vas te hou. In hierdie Godshande waarin ons tye en onsself is, is ons gebore, is ons opgetel uit ons nood en krisisse, is ons gered. Ons weet nie presies wat ons dag, week of jaar vir ons inhou of wat ons ure gaan vul nie. Wat ons wel weet, is dat ons in stilte kan sê: Ek vertrou op U, Here. U is my God. My tye is in u hand.

Dr Rudy Denton, Potchefstroom-Studente

af
af
Deel met behulp van
Copy link