Psalm 8: 1-10
Die Psalmdigter se gewaarwording, as hy onder die indruk kom van die grootsheid van God se skeppingswerk, is dat hyself tog maar ’n verbygaande spikkel is. Die grootse geheel, die onmeetlike grootheid van God, laat my in perspektief verklein. En wanneer ek myself so klein sien, dan word ek bewus van my totale afhanklikheid van die groter geheel en van die grote God in wie se teenwoordigheid ek leef. Dan word ek minder belangrik. Dan draai die wêreld nie net om my klein lewe en sy geskarrel nie. Dan word ek hoogstens een van die skepsels van die lewende God.
En dis eers as die Psalmdigter sy eie kleinheid besef, en weet dat hy maar ’n verbygaande gebeurtenis in die heelal is, dat hy ook ’n verdere gewaarwording het: Here, hoe wonderlik is dit dat U my hier gewil het. Dat ek hier voor U, o God, mens kan wees. Wie is ek tog dat U aan my sou dink? lemand wat hierdie gewaarwording het, is ook makliker geneig om te verstaan dat ander wat in elke opsig van my kan verskil, ook deel van God se groter geheel kan wees. Soos Gamaliël wat in Handelinge 5 aan sy kollegas in die Joodse Raad wat op die gevare van die Christene wys, die raad gee: Laat staan hulle. As wat hulle verkondig van God is, sal dit bly. As dit nie van God is nie, sal dit vanself tot niet gaan. Miskien is ook hulle deel van God se groter geheel. En hoe reg was hy nie!
In ’n toneel uit ’n roman van Timmermans staan een van sy karakters teen ’n boom en leun met sy hande in sy sakke. Hy staar met vreugde na die spel van die sonstrale deur die blare. Daar kom iemand verby wat haastig op pad iewers heen is en wat vra: Wat doen jy? En hy antwoord: Ek is. Ek is net besig om te wees. Ken ons nog iets daarvan om dit bloot te geniet dat ons is, van die vreugde dat God ons die lewe gegun het?
Gebed
Here, dankie dat U aan my gedink het en my die lewe gun. Help my om te verstaan dat ander ook deel is van u groter geheel. Amen.
Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort
