Matteus 20: 1-15
In die tyd van Jesus was dit die gebruik dat eienaars van wingerde “afwesige” eienaars was. Net ryk mense kon wingerde bekostig, en die rykes het gewoonlik in die stede gebly. Hulle het handearbeid verag, en gewoonlik voormanne aangestel om ’n wingerd namens hulle te bestuur, soos ons in Matteus 20: 8 lees. Die eienaar van hierdie gelykenis is egter anders as ander eienaars. Hy is teenwoordig op sy plaas, en neem aktief aan die boerdery deel. Hy staan self vroeg op om arbeiders so vroeg as sesuur in die oggend te huur, en dan gaan hy nog vier keer na die markplein om nog meer dagarbeiders werk te gee.
Sy goedheid strek nog verder. Wanneer die arbeiders betaal moet word, gee hy sy voorman opdrag om aan almal presies dieselfde loon te betaal, naamlik een denarius. Een denarius, in daardie tyd, was genoeg om ’n gesin van ses vir amper ’n week te voed. Hy maak dus seker dat almal wat die dag vir hom gewerk het, genoeg het om tuis hul gesinne ten minste vir ’n rukkie te kan versorg. Dit doen hy sonder dat dit van hom verwag word. Hy doen dit omdat hy goed vir ander wil wees. Bo alles, hy doen dit onverwags. En in daardie onverwagse oomblik word iets van God se koninkryk sigbaar.
Wanneer laas het ek en jy onverwags, teen alle verwagtinge in, ook so opgetree? Waar ons onverwags vergewe het, onverwags gehelp het, onverwags genadig teenoor ander was, en onverwags uitgereik het na ander? En so onverwags die koninkryk sigbaar gemaak? Of is ons eerder afgunstig teenoor mense wat vir ander goed is?
Prof Ernest van Eck, Emeritus/Kanada
