2 Timoteus 1: 3-17
Wat is die waarheid? Hoe maklik is dit nie om van die waarheid af te dwaal nie! Een van die dinge wat hiervoor verantwoordelik is, is ons blootstelling aan sosiale media. Waarskynlik het jy ook al agtergekom hoe groot en oorweldigend die invloed van die voortdurende en troebel stroom van sosialemediaboodskappe is?
Dink maar net aan die sosiale media wat jy gebruik, die mense na wie jy luister. In watter mate het hulle jou alreeds beïnvloed? Hoe krities is jy in jou omgaan met die sosiale media? ’n Klakkelose navolging van menings op sosiale media sal uiteindelik ons verstaan van God se waarheid verwater. Mense is baie ywerig om hul menings oor alles en nog wat, te lug. Maar weet jy, dit maak nie saak hoe hard daardie stemme skree nie, ’n mening bly ’n mening, en dit is nie altyd die waarheid nie.
Dit is nie ’n probleem wat uniek is aan ons 21ste-eeuse mediagedrewe lewe nie. Kyk hoe stel Paulus dit, toe hy in die eerste eeu aan Timoteus geskryf het (verse 13 en 14): Neem die woorde wat jy van my gehoor het, as voorbeeld van gesonde verkondiging en volg dit na in die geloof en liefde wat ons in Christus Jesus het. Wat aan jou toevertrou is, is goed. Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon.
Met ander woorde, kom terug na God se Woord. Ken sy waarheid, glo sy waarheid, leef sy waarheid, dit maak nie saak hoe hard die wêreld se opinies die teendeel skree nie. Want wanneer jy al hoe nader aan Jesus kom, word sy wysheid, sy nederigheid, sy liefde, sy genade – wat direk teenoor die lawaai van die wêreldse opinies staan – soos ’n skat vir jou siel.
Dit maak nie saak hoe oordonderend en oorverdowend die wêreld se opinies mag wees nie, dit is geen plaasvervanger vir God se waarheid nie. Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon. Want, wat aan jou toevertrou is, is goed.
Ds Errol Sheppard, Rietspruit
