Psalm 92

Ons praat baie maal van God se liefde en God se oneindige geduld met menslike foute. Maar God se skoonheid? Dis ’n vreemde woord om te gebruik wanneer ons oor God praat. Skoonheid waardeer ’n mens tog eers as jy dit gesien het, dit met jou oë kon waarneem. Skoonheid kan ’n mens eers bevestig as jy dit met jou sintuie kan bevestig. Hoe kan ons dan praat van God se skoonheid? Die boek in die Bybel wat ons stom laat oor die skoonheid van God, is die Psalms. Die Psalms wys vir ons ’n mooi God, ’n Here wat moeilik met ons gebrekkige woorde beskryf kan word. Die boek Psalms vertel vir ons van God se mooiste eienskappe.

Psalm 92 getuig juis van God se mooiste eienskappe: sy liefde en trou. Liefde en trou is inderdaad God se mooiste gesig. Psalm 92 vertel vir ons dat God by ons is met sy alomteenwoordige liefde en trou. Kan ons hierdie liefde en trou waarneem, God se mooiste gesig sien? Ja, ons kan. Ons kan terugkyk na gister en vele momente in ons eie lewens identifiseer waar God liefdevol en getrou teenoor ons was. Daar was sekerlik sulke dae. Ons kyk ook vorentoe na môre en vra onsself af: Waar gaan ons in hierdie onseker tyd wat ons vandag en môre betree, God se liefde en trou nodig hê? Ons kan dit vir seker met God in ’n gebed bespreek en weet dat sy liefdevolheid en getrouheid deel sal wees van elke sekonde van ons lewens.

Ons kan ook na ons hier en nou kyk, terwyl ons onsself afvra: Het ek vandag iemand bemoedig met God se liefde? Het ek vir iemand hoop gegee met God se trou? Mag ons gister, vandag en môre mekaar help om ons wonderlike God raak te sien en God se skoonheid te waardeer.

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia/Bybelgenootskap van Suid-Afrika

af
af
Deel met behulp van
Copy link